Doris Lessing

Doris May Lessing (née Tayler, * 22 Oktober 1919 in Kermanshah, Iran; † 17 November 2013 in Londen) was 'n Britse skryfster, digteres, toneelskryweres, librettis en biograaf. Doris Lessing is as dogter van 'n Britse koloniale offisier in diens van die Bank van Persië en sy vrou, 'n Engelse verpleegster, in Iran gebore en het later met haar ouers na die destydse Britse kolonie Suid-Rhodesië (tans Zimbabwe) verhuis. In 1939 het sy met haar eerste eggenoot, Frank Charles Wisdom, getrou. Uit dié huwelik is twee kinders gebore. In 1943 is die egpaar van mekaar geskei. Twee jaar later het Doris Lessing met die Duitse kommunis Gottfried Lessing in die huwelik getree by wie sy 'n seun, Peter, gehad het. Nadat ook hierdie huwelik geskei is, het Lessing haar met haar seun in Engeland gevestig. Lessing het felle kritiek op die amptelike rassebeleid in Suid-Rhodesië en Suid-Afrika gelewer en is in 1956 in albei lande verban. Haar literêre werk strek oor 'n verskeidenheid genres, waaronder haar halfbiografiese ervarings in die politieke en sosiale stryd in Afrika, psigologiese rillers en wetenskapsfiksie. Haar bekendste romans sluit The Grass Is Singing (1950), 'n reeks van vyf romans wat as Children of Violence (1952-1969) gepubliseer is, The Golden Notebook (1962), The Good Terrorist (1985), en die wetenskapsfiksiereeks Canopus in Argos: Archives (vyf romans, 1979-1983) in. Alhoewel The Golden Notebook as een van die 20ste eeuse sleutelromans oor die verhouding tussen mans en vroue beskou word, het Lessing haar as skryweres van die vrouebeweging gedistansieer. In 2007 is die Nobelprys vir Letterkunde aan Doris Lessing toegeken. Die Sweedse Akademie het haar beskryf as 'n "epiese skrywer van die vroulike ervaring wat 'n verdeelde beskawing met skeptisisme, vurigheid en visionêre sterkte noukeurig ondersoek het". Lessing was die elfde vrou en die oudste persoon wat ooit die Nobelprys vir Letterkunde ontvang het. In 2001 is Lessing vir haar lewenswerk in die Britse letterkunde met die David Cohen-prys vereer. Die Britse dagblad The Times het haar op 'n lys van die "50 grootste Britse skrywers sedert 1945" vyfde geranglys.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search